12 Maar Jesus het dit gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.
13 Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”
14 In dié tyd het die volgelinge van Johannes na Jesus toe gekom en gevra: “Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas glad nie?”
15 Jesus antwoord hulle: “Kan die bruilofsgaste dan treur solank die bruidegom nog by hulle is? Maar daar kom 'n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas.
16 “Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want die nuwe lap skeur die klere nog verder, en die gat word net groter.
17 “'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen. Nee, 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en so behou jy altwee.”
18 Jesus was nog besig om dit vir die mense te sê toe daar 'n raadslid van die sinagoge voor Hom kom kniel en sê: “My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê u hand op haar en sy sal weer lewe.”