12 Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.
13 Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot 'n val kan bring nie.
14 Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek en is ek daarvan oortuig dat niks vanself onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou — vir hom is dit dan onrein.
15 As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie.
16 Moenie dat die goeie wat julle het, 'n slegte naam kry nie.
17 Die koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.
18 Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.