23 Maar nou is daar vir my in hierdie streke nie meer 'n nuwe arbeidsveld nie, en ek koester al baie jare die begeerte om julle te besoek
24 as ek na Spanje toe gaan. Ek hoop om julle dan op my deurreis te sien; trouens, ek sou graag ook eers 'n tydjie by julle wou deurbring en dan met julle hulp verder na Spanje toe reis.
25 Maar nou is ek eers op pad Jerusalem toe met geldelike hulp vir die gelowiges daar.
26 Die gemeentes in Masedonië en Agaje het dit naamlik goedgedink om iets by te dra vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem.
27 Hulle het self so besluit, en hulle is dit buitendien ook verskuldig, want as die gelowiges uit die Jode hulle geestelike rykdom met die heidennasies gedeel het, is die gelowiges uit die heidene dit aan die gelowiges uit die Jode verskuldig om hulle met stoflike hulp by te staan.
28 As ek daarmee klaar is en die volle bedrag wat ingesamel is, veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje toe reis.
29 Ek weet dat as ek na julle toe kom, dit met die volle seën van Christus sal wees.