11 Hy het die besnydenis as 'n teken ontvang. Dit is 'n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo.
12 Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was.
13 Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het.
14 As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag.
15 Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie 'n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie.
16 Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal,
17 soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.