18 Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.”
19 Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie.
20 Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee.
21 Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.
22 Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.
23 Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie,
24 maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het.