13 Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as 'n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.
14 Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.
15 Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie.
16 Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe.
17 Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het.
18 Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen.
19 Weens julle beperkte begrip gebruik ek 'n beeld uit die alledaagse lewe: soos julle elke deel van julle liggame in diens van sedelike onreinheid en wetteloosheid gestel het en losbandig gelewe het, so moet julle nou elke deel van julle liggame in diens van God stel om heilig te lewe.