18 En sy het gesê: “Mag dit vir my wees soos u sê.”Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie.
19 Die volgende môre het Elkana-hulle vroeg opgestaan, die Here aanbid en teruggegaan huis toe.Nadat hulle tuis gekom het in Rama, het Elkana gemeenskap gehad met sy vrou Hanna, en die Here het aan haar gedink.
20 By die wisseling van die jaar was Hanna swanger. Sy het 'n seun in die wêreld gebring en uitgeroep: “Sy naam is Samuel: van die Here het ek hom afgesmeek!”
21 Toe Elkana en sy hele gesin gaan om die jaarlikse offer aan die Here te bring en sy gelofte te betaal,
22 het Hanna nie saamgegaan nie, want sy het vir haar man gesê: “Wanneer die seun gespeen is, sal ek hom wegbring dat hy voor die Here verskyn en altyd daar bly.”
23 Haar man Elkana het vir haar gesê: “Maak soos jy dit goedvind. Bly totdat jy hom gespeen het. Mag die Here sy woord bevestig!”Hanna het toe gebly en haar kind gevoed totdat sy hom gespeen het.
24 Toe sy hom gespeen het, het sy hom saamgeneem, en ook 'n driejaaroud bul, sestien kilogram meel en 'n kruik wyn. Sy het hom as klein seuntjie weggebring na die huis van die Here toe in Silo.