1 Nadat die slaaf vooruitgeloop het, het Samuel 'n kruik olie gevat en dit oor Saul se kop uitgegiet, hom gesoen en gesê: “Die Here het jou tot regeerder oor sy besitting gesalf.
2 Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy by Selsag, by die graf van Ragel op die grens van Benjamin, twee mans teëkom en hulle sal vir jou sê: ‘Die donkies wat jy gaan soek het, is gekry. Maar kyk, jou pa het die saak van die donkies al laat vaar. Hy is bekommerd oor julle en vra: Wat kan ek omtrent my seun doen?’
3 “En wanneer jy daarvandaan verder gaan, sal jy by Elon-Tabor kom. Daar sal jy drie mans teëkom wat na God in Bet-El opgaan. Die een sal drie bokkies dra, die ander een drie ringbrode en die derde 'n kruik wyn.
4 Hulle sal vra hoe dit met jou gaan. Dan sal hulle jou twee brode gee, en jy moet dit van hulle aanneem.