1 Nagas die Ammoniet het opgetrek en Jabes in Gilead beleër. Al die inwoners van Jabes het vir Nagas gesê: “Sluit 'n verdrag met ons, dan sal ons u onderdane wees.”
2 En Nagas die Ammoniet het vir hulle gesê: “Op hierdie voorwaarde sal ek dit doen: ek steek elkeen van julle se regteroog uit tot skande van die hele Israel.”
3 Toe sê die leiers van Jabes vir hom: “Gee ons sewe dae kans sodat ons boodskappers deur die hele gebied van Israel kan stuur. Indien niemand tot ons redding kom nie, sal ons ons aan u oorgee.”
4 Die boodskappers het by Saul se stad Gibea gekom en ten aanhore van die volk die hele saak uiteengesit. En die hele volk het hard gehuil.
5 Toe kom Saul net agter die osse van die land af en hy vra: “Wat makeer die volk dat hulle so huil?”Hulle het hom vertel wat die manne van Jabes gesê het.
6 Die Gees van God het kragtig in Saul gewerk toe hy dit hoor, en hy het woedend geword.
7 Toe vat hy twee osse en kap hulle in stukke en stuur dit deur die hele gebied van Israel met boodskappers wat sê: “Hy wat nie agter Saul en Samuel optrek nie — so sal met sy beeste gemaak word.”'n Geweldige skrik het die volk oorval en hulle het soos een man opgetrek.