10 Die manne van Jabes het egter vir Nagas gesê: “Môreoggend gee ons ons aan julle oor. Dan kan julle met ons maak net wat julle wil.”
11 Na sononder het Saul die manskappe in drie afdelings opgestel. Lank voor dagbreek het hulle die kamp van die Ammoniete binnegeval en tot op die warmte van die dag het hulle die Ammoniete om die lewe gebring. Dié wat oorgebly het, is so uitmekaargejaag dat daar nie twee van hulle bymekaar gebly het nie.
12 Die manskappe het toe vir Samuel gevra: “Wie het gesê: ‘Moet Saul dan oor ons koning wees?’ Lewer daardie mense uit en ons sal hulle doodmaak!”
13 Maar Saul het gesê: “Op 'n dag soos dié mag niemand doodgemaak word nie, want vandag het die Here uitkoms gegee in Israel.”
14 Toe sê Samuel vir die manskappe: “Kom ons gaan na Gilgal toe en bevestig daar opnuut die koningskap.”
15 Al die manskappe is toe na Gilgal toe, en daar in Gilgal het hulle voor die Here aangekondig dat Saul koning is. Hulle het daar maaltydoffers voor die Here gebring, en Saul en al die manskappe van Israel was baie bly.