5 Toe kom Saul net agter die osse van die land af en hy vra: “Wat makeer die volk dat hulle so huil?”Hulle het hom vertel wat die manne van Jabes gesê het.
6 Die Gees van God het kragtig in Saul gewerk toe hy dit hoor, en hy het woedend geword.
7 Toe vat hy twee osse en kap hulle in stukke en stuur dit deur die hele gebied van Israel met boodskappers wat sê: “Hy wat nie agter Saul en Samuel optrek nie — so sal met sy beeste gemaak word.”'n Geweldige skrik het die volk oorval en hulle het soos een man opgetrek.
8 Saul het hulle in Besek getel. Daar was drie honderd afdelings Israeliete, en die manne van Juda was dertig afdelings.
9 Hulle het toe vir die boodskappers wat gekom het, gesê: “So moet julle vir die manne van Jabes in Gilead sê: Môre as die son warm word, sal daar vir julle uitkoms wees.”Die boodskappers het gegaan en dit aan die manne van Jabes vertel, en hulle was bly.
10 Die manne van Jabes het egter vir Nagas gesê: “Môreoggend gee ons ons aan julle oor. Dan kan julle met ons maak net wat julle wil.”
11 Na sononder het Saul die manskappe in drie afdelings opgestel. Lank voor dagbreek het hulle die kamp van die Ammoniete binnegeval en tot op die warmte van die dag het hulle die Ammoniete om die lewe gebring. Dié wat oorgebly het, is so uitmekaargejaag dat daar nie twee van hulle bymekaar gebly het nie.