1 Samuel het vir die hele Israel gesê: “Kyk, ek het aan julle versoek toegegee; soos julle vir my gevra het, het ek 'n koning oor julle aangestel.
2 Hier is die koning dan nou. Hy sal julle lei. Maar ek het oud en grys geword en my seuns is hier saam met julle. Ek het julle van my jeug af tot nou toe gelei.
3 Lê dan nou getuienis teen my af in die teenwoordigheid van die Here en sy gesalfde. Van wie het ek 'n os gevat? Van wie het ek 'n donkie gevat? Wie het ek benadeel of wie het ek verdruk? Uit wie se hand het ek omkoopgeld aangeneem om 'n onreg oor te sien? Ek sal dit terugbetaal.”
4 Toe antwoord hulle: “U het ons nie benadeel en ons ook nie verdruk nie. U het van niemand iets gevat nie.”
5 Verder sê Samuel vir hulle: “Die Here is hier by julle getuie, en sy gesalfde is vandag ook getuie dat julle niks teen my gevind het nie.”En hulle sê: “Hy is getuie.”
6 Samuel sê toe vir die volk: “Die Here deur wie Moses en Aäron gemaak is wat hulle was, en deur wie julle voorgeslag uit Egipte gebring is, is getuie.
7 Kom staan nou hier dat ek julle voor die Here kan onderrig op grond van al die reddingsdade van die Here wat Hy vir julle en julle voorgeslag gedoen het.