11 Toe het die Here vir Jerubbaäl, Barak, Jefta en Samuel gestuur en julle bevry uit die mag van julle vyande rondom julle sodat julle rustig kon woon.
12 Toe julle sien dat koning Nagas van die Ammoniete teen julle optrek, het julle vir my gesê: ‘Nee, daar moet 'n koning oor ons heers,’ hoewel die Here julle God tog julle koning is.
13 “Hier is dan nou die koning vir wie julle verkies het, op wie julle aangedring het. Kyk, die Here het 'n koning oor julle aangestel.
14 As julle eerbied aan die Here betoon, Hom dien en na sy stem luister en julle ook nie verset teen die bevel van die Here nie, julle sowel as die koning wat oor julle regeer, sal die Here julle God by julle wees.
15 As julle nie na die stem van die Here luister nie en ongehoorsaam is aan die bevel van die Here, sal die Here teen julle wees, soos teen julle voorvaders.
16 “Staan nog net 'n rukkie en let op hierdie groot ding wat die Here voor julle oë gaan doen.
17 Hoewel dit nou nie reëntyd is nie, gaan ek die Here aanroep sodat Hy donderslae en 'n stortreën gee. Kyk daarna en besef dan dat julle in die oë van die Here 'n baie verkeerde ding gedoen het deur vir julle 'n koning te vra.”