5 Verder sê Samuel vir hulle: “Die Here is hier by julle getuie, en sy gesalfde is vandag ook getuie dat julle niks teen my gevind het nie.”En hulle sê: “Hy is getuie.”
6 Samuel sê toe vir die volk: “Die Here deur wie Moses en Aäron gemaak is wat hulle was, en deur wie julle voorgeslag uit Egipte gebring is, is getuie.
7 Kom staan nou hier dat ek julle voor die Here kan onderrig op grond van al die reddingsdade van die Here wat Hy vir julle en julle voorgeslag gedoen het.
8 “Nadat Jakob in Egipte gekom het, het julle voorvaders na die Here geroep om hulp. Die Here het toe vir Moses en Aäron gestuur, en hulle het julle voorvaders uit Egipte uit gelei en in hierdie land laat woon.
9 Maar julle voorvaders het die Here hulle God vergeet. Hy het hulle oorgegee in die mag van Sisera, die leëraanvoerder van Hasor, en in die mag van die Filistyne en van die koning van Moab, wat almal teen julle voorvaders oorlog gemaak het.
10 Hulle het na die Here geroep om hulp en het bely: ‘Ons het gesondig, want ons het die Here verlaat en ons het die Baäls en die Astartes gedien. Red ons tog nou uit die mag van ons vyande, en ons sal U dien.’
11 Toe het die Here vir Jerubbaäl, Barak, Jefta en Samuel gestuur en julle bevry uit die mag van julle vyande rondom julle sodat julle rustig kon woon.