21 Saul het naamlik gedink: ek sal haar aan hom gee dat sy vir hom 'n vangstrik word en die Filistyne teen hom kan wees.So het Saul dan twee keer vir Dawid gesê: “Jy kan vandag my skoonseun word.”
22 Saul het sy amptenare beveel: “Sê so ongemerk vir Dawid: Jy weet, die koning hou van jou en al sy amptenare is lief vir jou. Word nou maar die koning se skoonseun.”
23 Saul se amptenare het hierdie boodskap vir Dawid in die oor gefluister en Dawid het gesê: “Dink julle dis 'n kleinigheid om die koning se skoonseun te word? Ek is maar 'n arm man sonder aansien.”
24 Saul se amptenare het hom meegedeel wat Dawid gesê het.
25 Maar Saul het gesê: “So moet julle vir Dawid sê: Die koning wil niks anders as honderd voorhuide van die Filistyne as huweliksvergoeding hê nie, om so wraak te neem teen sy vyande.”Saul se gedagte was om Dawid deur die Filistyne te laat omkom.
26 Saul se amptenare het hierdie woorde aan Dawid meegedeel, en Dawid het ingestem om die koning se skoonseun te word.Dawid het nie tyd verspeel nie,
27 maar klaargemaak, en hy en sy manskappe het twee honderd Filistyne gaan doodmaak. Dawid het hulle voorhuide gebring, en dié is almal aan die koning oorhandig sodat Dawid die koning se skoonseun kon word. Saul het sy dogter Mikal aan hom gegee as vrou.