22 Eli was al baie oud. En wanneer hy alles hoor wat sy seuns aan al die Israeliete doen en dat hulle by die vrouens slaap wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting,
23 sê hy vir hulle: “Waarom doen julle sulke dinge dat ek aanhoudend by die hele volk moet hoor van julle slegte dade?
24 Ag nee, my seuns, die gerugte wat ek verneem, is nie goed nie. Julle verlei die volk van die Here.
25 Wanneer een mens teen 'n ander mens verkeerd optree, sal die regters die saak uitmaak, maar as 'n mens teen die Here sondig, wie sal dan die saak uitmaak?”Hulle het egter nie na hulle pa se vermaning geluister nie, want die Here het besluit om hulle dood te maak.
26 Maar die seun Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind.
27 'n Man van God het by Eli gekom en vir hom gesê: “So sê die Here: Ek het My duidelik geopenbaar aan die huis van jou stamvader toe die volk in Egipte aan die farao's onderdanig was.
28 Ek het jou stamvader vir My uit al die Israelitiese stamme as priester uitgekies om my altaar te bedien, om wierook aan die brand te steek en om 'n skouerkleed voor My te dra. Ek het jou familie al die vuuroffers van die Israeliete gegee.