20 Ek sal drie pyle aan die kant daarvan verby skiet, asof ek na 'n teiken skiet.
21 Dan sal ek my slaaf stuur: ‘Gaan soek die pyle.’ As ek uitdruklik vir hom sê: ‘Kyk, die pyle is duskant jou; tel hulle op en kom!’ is jy veilig en so seker as die Here leef, daar is dan geen gevaar nie.
22 Maar as ek vir hom sê: ‘Kyk, die pyle is anderkant jou!’ moet jy weggaan. Dan stuur die Here jou weg.
23 En wat die saak betref waaroor ek en jy gepraat het: onthou, die Here is vir altyd getuie daarvan.”
24 Dawid het toe in die veld weggekruip. Met nuwemaan het die koning by die maaltyd aangesit,
25 en hy het soos gewoonlik op sy plek teen die muur gaan sit. Jonatan het regoor hom gesit en Abner langs Saul. Dawid se leë plek is opgemerk,
26 maar op daardie dag het Saul niks gesê nie, want hy het gedink: daar moes iets gebeur het, en hy is dalk nie rein nie, hy mag dalk nie aan tafel kom nie.