4 Die priester het Dawid geantwoord: “Ek het nie gewone brood byderhand nie, hier is net gewyde brood. As die manskappe hulle tog maar van vrouens weerhou het.”
5 Toe sê Dawid vir die priester: “Soos altyd wanneer ek gaan oorlog maak, is vrouens vir ons verbode en daarom is die liggame van die manskappe rein. Al is dit ook 'n gewone onderneming, is die liggame vandag tog rein.”
6 Die priester het toe aan hom gewyde brood gegee, want daar was nie gewone brood nie, net die offerbrood wat op 'n bepaalde tyd uit die tempel verwyder word om dit deur vars brood te vervang.
7 Een van Saul se slawe moes daardie dag in die tempel deurbring. Sy naam was Doëg. Hy was 'n Edomiet, die hoof van Saul se veewagters.
8 Dawid het ook vir Agimelek gesê: “Is hier nie miskien 'n spies of 'n swaard byderhand nie? Ek kon selfs nie eens my swaard of my ander wapens vat nie, want die saak van die koning was dringend.”
9 Die priester het hom geantwoord: “Die swaard van Goliat die Filistyn, vir wie u in die dal by die groot boom verslaan het, is hier, toegedraai in 'n mantel agter die skouerkleed. Vat dit vir u as u wil, want in hierdie plek is daar niks behalwe hierdie een nie.”En Dawid sê: “Daar is nie nog so een nie. Gee dit vir my.”
10 Hierná het Dawid klaargemaak en dieselfde dag nog van Saul af weggevlug na koning Akis van Gat toe.