10 Agimelek het die Here vir Dawid geraadpleeg en vir hom padkos gegee. Agimelek het ook die swaard van die Filistyn Goliat vir hom gegee.”
11 Daarop het die koning gestuur om die priester Agimelek, seun van Agitub, en sy hele familie, die priesters in Nob, te ontbied, en hulle het almal na die koning toe gekom.
12 Saul het toe gesê: “Luister, seun van Agitub.”En hy het geantwoord: “Ek luister, U Majesteit.”
13 En Saul het vir hom gevra: “Waarom het jy en die seun van Isai teen my saamgesweer toe jy vir hom brood en 'n swaard gegee en God vir hom geraadpleeg het, sodat hy teen my in opstand kon kom en vandag vir my 'n bedreiging is?”
14 Agimelek het die koning geantwoord: “Maar wie van al u amptenare is so betroubaar soos Dawid, die skoonseun van die koning? Hy is die hoof van u lyfwag en geniet hoë aansien in u huis.
15 Dit is in elk geval nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie. Die koning moet my en my hele familie nie van iets beskuldig nie, want ek het beslis niks van die hele saak af geweet nie.”
16 Maar die koning het gesê: “Agimelek, jy moet sterwe, jy en jou hele familie.”