6 Maar agterna het Dawid se gewete hom gepla omdat hy Saul se mantelpunt afgesny het.
7 Hy het vir die manne gesê: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek my hand teen my koning, die gesalfde van die Here, oplig, want hy is die gesalfde van die Here.”
8 So het Dawid sy manne met sy woorde gekeer en hulle nie toegelaat om teen Saul op te tree nie. En Saul het opgestaan en sy koers gegaan uit die grot uit.
9 Dawid het ook klaargemaak en uit die grot uitgegaan. Hy het agter Saul aan geroep: “U Majesteit, die Koning!” Toe Saul omkyk, het Dawid gekniel en diep gebuig.
10 Dawid sê toe vir Saul: “Waarom luister u na die praatjies van mense wat sê Dawid soek u ondergang?
11 U sien vandag met u eie oë dat die Here u nou in die grot in my hand gegee het en as 't ware vir my gesê het om u dood te maak. Maar ek het u gespaar en gesê: ‘Ek sal my hand nie teen my koning oplig nie, want hy is die gesalfde van die Here.’
12 My vader, kyk tog, kyk na die punt van u mantel in my hand. Deurdat ek die punt van u mantel afgesny het, maar u nie doodgemaak het nie, kan u weet en sien dat daar geen kwaadwilligheid of opstandigheid by my is nie. Ek het nie teen u in opstand gekom nie, selfs al agtervolg u my om my lewe te neem.