9 Dawid het ook klaargemaak en uit die grot uitgegaan. Hy het agter Saul aan geroep: “U Majesteit, die Koning!” Toe Saul omkyk, het Dawid gekniel en diep gebuig.
10 Dawid sê toe vir Saul: “Waarom luister u na die praatjies van mense wat sê Dawid soek u ondergang?
11 U sien vandag met u eie oë dat die Here u nou in die grot in my hand gegee het en as 't ware vir my gesê het om u dood te maak. Maar ek het u gespaar en gesê: ‘Ek sal my hand nie teen my koning oplig nie, want hy is die gesalfde van die Here.’
12 My vader, kyk tog, kyk na die punt van u mantel in my hand. Deurdat ek die punt van u mantel afgesny het, maar u nie doodgemaak het nie, kan u weet en sien dat daar geen kwaadwilligheid of opstandigheid by my is nie. Ek het nie teen u in opstand gekom nie, selfs al agtervolg u my om my lewe te neem.
13 Die Here sal regspreek tussen my en u en die Here sal my wreek op u, maar ek sal nie teen u wees nie.
14 Soos die spreekwoord van die voorgeslag lui:“ ‘Boosheid gaan uit van die boosdoeners,’“maar ek sal nie teen u wees nie.
15 Agter wie aan het die koning van Israel opgetrek? Agter wie kom u aan? Agter 'n dooie hond aan; agter een enkele vlooi aan!