14 Een van die veewagters het vir Abigajil, die vrou van Nabal, vertel: “Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om vir Meneer te groet, maar hy het teen hulle uitgevaar.
15 Tog was die manne baie goed vir ons. Solank ons saam met hulle in die veld rondgetrek het, is ons nie kwaad aangedoen nie, en het ons niks vermis nie.
16 Hulle het ons dag en nag beskerm so lank as ons die kleinvee naby hulle opgepas het.
17 Nou kan u gerus gou kyk wat u kan doen, want daar is klaar besluit om vir Meneer en sy hele huis te straf; en hy is so 'n verkeerde man dat 'n mens nie met hom daaroor kan praat nie.”
18 Abigajil het gou twee honderd brode, twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf emmer gebraaide koring, honderd trosse rosyntjies en twee honderd koeke gedroogde vye gevat en op donkies gelaai.
19 Sy het vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit. Ek kom sommer nou agter julle aan.”Aan haar man Nabal het sy niks hiervan vertel nie.
20 Terwyl sy nog op die donkie ry en in 'n kloof teen die berg afgaan, kom Dawid en sy manne juis na haar kant toe aan, sodat sy hulle teëkom.