1 Daarna het Siffiete by Saul in Gibea gekom en gesê: “Dawid kruip weg op die Gakilarant teenoor die onherbergsame streek.”
2 Saul het toe klaargemaak en na die Sifwoestyn toe gegaan. Saam met hom was daar drie afdelings, uitgesoektes uit Israel, om Dawid in die Sifwoestyn op te spoor.
3 Saul het kamp opgeslaan langs die pad op die Gakilarant, wat teenoor die onherbergsame gebied is. Dawid het in die woestyn gebly. Toe hy hoor dat Saul tot in die woestyn agter hom aankom,
4 het Dawid spioene uitgestuur en so het hy sekerheid gekry dat Saul na hom toe op pad was.
5 Toe het Dawid klaargemaak en by die plek gekom waar Saul kamp opgeslaan het. Dawid het die plek gesien waar Saul en Abner seun van Ner, die hoof van Saul se leër, gelê en slaap het. Saul het op die wa gelê en die manskappe rondom hom.
6 En Dawid het vir Agimelek die Hetiet, en vir Abisai, broer van Joab en seun van Seruja, gevra: “Wie wil saam met my na Saul toe in die kamp gaan?”Abisai het geantwoord: “Ek sal saam met jou gaan.”
7 Dawid en Abisai het daardie nag by die manskappe van Saul gekom, en Saul was vas aan die slaap op die wa terwyl sy spies aan die koppenent in die grond steek en Abner en die manskappe rondom hom lê en slaap.