11 Mag die Here my verhinder dat ek my hand oplig teen die gesalfde van die Here. Vat net die spies by sy koppenent en die waterkruik en laat ons hier wegkom.”
12 Dawid het die spies en die waterkruik by Saul se koppenent gevat en weggegaan sonder dat iemand iets gesien of gehoor het of wakker geword het, want almal het geslaap. Die Here het hulle vas laat slaap.
13 Daarna het Dawid na die oorkant toe gegaan en op die top van die berg gaan staan, ver weg met 'n groot afstand tussen hulle.
14 Dawid het na die manskappe van Saul en na Abner seun van Ner geroep: “Abner, antwoord jy dan nie?”En Abner het geantwoord: “Wie is jy wat na die koning roep?”
15 Toe sê Dawid vir Abner: “Is jy nie 'n man nie? Wie is soos jy in Israel? Waarom het jy nie wag gestaan by jou koning nie? Daar het een van die volk gekom om die koning dood te maak.
16 Wat jy gedoen het, is nie goed nie. So seker as die Here leef, julle moet eintlik dood wees omdat julle nie by julle koning, die gesalfde van die Here, wag gestaan het nie. Kyk net 'n bietjie! Waar is die koning se spies en die waterkruik wat by sy koppenent was?”
17 Saul het Dawid se stem herken en gesê: “Is dit jy wat praat, my seun, Dawid?”Dawid het gesê: “Dit is, U Majesteit!”