18 Hy het verder gevra: “Waarom agtervolg die koning tog sy onderdaan? Wat het ek gedoen wat verkeerd is?
19 Maar nou moet die koning tog na my luister. As dit die Here is wat u teen my aanhits, bring dan vir Hom 'n offer. Maar as dit mense is, vervloek is hulle voor die Here, want hulle het my nou uitgedryf sodat ek voel asof ek nie meer aan die volk van die Here behoort nie. Hulle het gesê: ‘Gaan dien vreemde gode.’
20 Laat my bloed tog nie ver van die heiligdom af op die grond val nie. Waarlik, die koning van Israel het uitgetrek om een enkele vlooi te soek soos 'n mens 'n patrys in die berge agtervolg.”
21 Maar Saul het gesê: “Ek het 'n fout gemaak. Kom terug, my seun, Dawid, want ek sal nie meer verkeerd teenoor jou optree nie omdat jy vandag my lewe gespaar het. Ja regtig, ek het dwaas opgetree en 'n growwe fout gemaak.”
22 Toe sê Dawid: “Hier is die koning se spies. Laat een van u manskappe tog oorkom en dit kom haal.
23 Mag die Here elkeen volgens sy geregtigheid en trou beloon, want die Here het u vandag in my mag gegee. Maar ek was nie bereid om my hand te lig teen die gesalfde van die Here nie.
24 En kyk, mag die Here my lewe net so spaar soos ek vandag u lewe gespaar het, en mag Hy my uit elke benoudheid red.”