1 Dawid het by homself gedink: ek sal nog eendag deur Saul omkom. Daar bly vir my niks anders oor nie as om uit te wyk na die land van die Filistyne toe. Dan sal Saul ophou om langer oral in die gebied van Israel na my te soek. So sal ek van hom af wegkom.
2 Dawid het klaargemaak en hy en ses honderd man wat by hom was, het oorgetrek na koning Akis van Gat, seun van Maok toe.
3 Dawid het by Akis in Gat gewoon, hy en sy manne met hulle gesinne, en ook sy twee vrouens Aginoam uit Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet.
4 Daar is toe aan Saul vertel dat Dawid na Gat toe gevlug het, en Saul het hom nie langer gesoek nie.
5 Dawid het vir Akis gesê: “As u my goedgesind is, gee my dan 'n plek in een van u buitedorpe sodat ek daar kan woon. Waarom moet ek saam met u in die koninklike stad woon?”
6 Op daardie dag het Akis toe vir Siklag aan hom gegee, en daarom behoort Siklag nou nog aan die konings van Juda.
7 Dawid het 'n jaar en vier maande op die platteland by die Filistyne gewoon.