13 Maar die koning het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie. Wat sien jy?” en die vrou sê vir Saul: “Ek sien 'n wese uit 'n ander wêreld opkom uit die aarde.”
14 Hy sê toe vir haar: “Hoe lyk hy?” en sy sê: “'n Ou man kom op en hy het 'n mantel aan.”Saul het toe geweet dat dit Samuel is en Saul het diep gebuig en eer aan hom betoon.
15 Samuel het vir Saul gevra: “Waarom steur jy my deur my te laat opkom?”En Saul antwoord: “Ek is baie bang, want die Filistyne veg teen my, en God het my verlaat. Hy antwoord my nie meer nie, nie deur profete nie en ook nie deur drome nie. Daarom het ek u opgeroep om my in te lig oor wat ek moet doen.”
16 Maar Samuel sê: “Waarom raadpleeg jy mý dan as die Here jou verlaat en jou teëstander geword het?
17 Die Here het gedoen soos Hy deur my gesê het. Die Here het die koningskap van jou afgeskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee,
18 want jy het nie die bevel van die Here gehoorsaam nie en sy gloeiende toorn nie op Amalek gewreek nie. Daarom het die Here jou nou hierdie ding aangedoen.
19 Die Here sal Israel saam met jou in die mag van die Filistyne oorgee, en môre sal jy en jou seuns by my wees. Die Here sal ook die leër van Israel oorgee in die mag van die Filistyne.”