2 En Dawid het vir Akis gesê: “Maar u weet tog wat ek nog altyd doen.”Toe sê Akis vir Dawid: “Daarom stel ek jou vir goed aan as my lyfwag.”
3 Samuel het te sterwe gekom, en die hele Israel het oor hom gerou en hulle het hom in sy stad Rama begrawe. Saul het ook die dodebesweersters en die waarsêers uit die land verban.
4 Die Filistyne het bymekaargekom en kamp gaan opslaan by Sunem. Saul het die hele Israel bymekaargemaak en kamp opgeslaan by Gilboa.
5 Saul het die kamp van die Filistyne gesien; hy was bang en sy hart het benoud geklop.
6 Hy het die Here geraadpleeg, maar die Here het hom nie geantwoord nie, nóg deur drome, nóg deur die urim, nóg deur profete.
7 Saul het toe vir sy amptenare gesê: “Soek vir my 'n dodebesweerster sodat ek haar kan gaan raadpleeg.”Sy amptenare het vir hom gesê: “Daar is 'n dodebesweerster in En-Dor.”
8 Saul het hom vermom en ander klere aangetrek, en hy en twee manne het gegaan en in die nag by die vrou aangekom en gesê: “Tree vir my as waarsegster op deur die gees van 'n afgestorwene, en laat vir my die een opkom wat ek vir jou sê.”