3 en toe die aanval op Saul toegespits.Die boogskutters het hom in die oog gekry, en hy het baie bang vir hulle geword,
4 en vir sy wapendraer gesê: “Trek jou swaard en steek my daarmee dood dat daardie heidene nie kom en my doodsteek en in oneer laat sterf nie.”Maar sy wapendraer wou nie, want hy was baie bang. Saul vat toe self die swaard en val daarin.
5 Toe sy wapendraer sien Saul is dood, val hy ook in sy swaard en sterf saam met hom.
6 So is Saul en sy drie seuns en sy wapendraer en al die manskappe by hom op daardie dag saam dood.
7 Die Israeliete wat oorkant die laagte en oorkant die Jordaan gewoon het, het gesien dat die manskappe gevlug het en dat Saul en sy seuns dood is. Hulle het toe die stede verlaat en ook gevlug, en die Filistyne het die stede beset en daar gaan woon.
8 Toe die Filistyne die dag na die geveg die lyke kom stroop, kry hulle Saul en sy drie seuns daar waar hulle op Gilboaberg geval het.
9 Hulle het sy kop afgesny en sy wapens afgeruk en dié in die land van die Filistyne rondgestuur om die goeie nuus in hulle tempels en aan hulle mense bekend te maak.