8 Vat dan die ark van die Here en sit dit op die wa. Die goue voorwerpe wat julle as geskenk aan die Here gee, moet julle langs die ark in 'n kissie neersit. Los dan die wa dat hy loop.
9 En let op: as dit met die pad langs na sy gebied toe in Bet-Semes gaan, dan het die Here ons hierdie groot kwaad aangedoen. So nie, dan weet ons dat dit nie Hy was nie; dan was dit maar iets wat toevallig gebeur het.”
10 Die Filistyne het dit toe gedoen. Hulle het die twee koeie gevat en voor die wa ingespan en hulle kalwers in die kraal gehou,
11 en die ark van die Here op die wa gesit, ook die kissie met die goue muise en die afbeeldings van die swere.
12 Die koeie het reguit met die pad langs na Bet-Semes toe geloop, bulk-bulk al met die grootpad langs. Hulle het nie links of regs weggedraai nie, terwyl die Filistynse regeerders agter hulle aan geloop het tot by die gebied van Bet-Semes.
13 Die mense van Bet-Semes was besig om koring te oes in die laagte, en toe hulle opkyk, sien hulle die ark. Hulle was bly om dit te sien.
14 Die wa het tot by die grond van Josua van Bet-Semes gekom en daar gaan staan. Dáár was 'n groot klip. Hulle het die hout van die wa stukkend gekap en die koeie as brandoffer aan die Here geoffer.