9 Vroeër, wanneer iemand gegaan het om God te raadpleeg, is daar in Israel gesê: “Kom ons gaan na die siener toe.” Die profeet van vandag is vroeër siener genoem.
10 Saul het vir sy slaaf gesê: “Dis 'n goeie plan. Kom ons gaan.”Hulle het na die stad toe gegaan waar die man van God was.
11 Terwyl hulle die opdraand na die stad toe opgaan, het hulle meisies teëgekom wat gaan water skep het, en vir hulle gevra: “Is die siener hier?”
12 Hulle het geantwoord: “Hy is daar in die stad voor u. Maak gou! Hy het vandag na hierdie stad toe gekom, want die volk bring vandag 'n offer op die hoogte.
13 Wanneer julle die stad binnegaan, sal julle hom kry net voor hy na die hoogte toe opgaan om te eet. Die mense eet nie voor hy gekom het nie, want hy moet die offer seën. Daarna eet die genooides. Gaan dadelik, want julle sal hom nou daar kry.”
14 Hulle is na die stad toe en toe hulle die stad ingaan, kom Samuel juis in hulle rigting om na die hoogte toe op te gaan.
15 'n Dag voor die koms van Saul het die Here vertroulik aan Samuel geopenbaar: