11 Die priester Urija het die altaar gebou in ooreenstemming met koning Agas se aanwysings uit Damaskus. Die priester Urija het dit presies so gemaak nog voordat die koning uit Damaskus aangekom het.
12 Toe die koning van Damaskus af kom en die altaar sien, het hy nader gegaan en op die altaar geklim.
13 Hy het sy brandoffer en sy graanoffer gebring, sy drankoffer uitgegiet en die bloed van die maaltydoffers ten behoewe van homself teen die altaar uitgegooi.
14 Die bronsaltaar ter ere van die Here het hy van die voorkant van die tempel af, tussen die altaar en die huis van die Here uit, verskuif na die noordekant van die altaar toe.
15 Koning Agas het die priester Urija beveel: “Steek die oggendbrandoffer en die aandgraanoffer aan die brand op die groot altaar en ook die koning se brandoffer en graanoffer, die brandoffer van die landsburgers, hulle graanoffers en hulle drankoffers. Die bloed van elke brandoffer en van elke ander diereoffer moet julle teen die groot altaar uitgiet. Die bronsaltaar sal myne bly om die wil van God te wete te kom.”
16 Die priester Urija het alles gedoen wat koning Agas hom beveel het.
17 Koning Agas het die sluitplate van die waentjies verwyder en die waskomme van hulle af geneem en die waterbak het hy opgelig van die beeste af wat van brons gemaak is, en op 'n klipvloer gesit.