18 Hy het die pad van die konings van Israel geloop soos die koningshuis van Agab gedoen het, want hy was getroud met 'n dogter van Agab. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.
19 Die Here wou Juda nie vernietig nie, ter wille van sy dienaar Dawid. Die Here het hom belowe om altyd iemand uit sy nageslag op sy troon te laat sit.
20 In die tyd van Joram het die Edomiete teen Juda gerebelleer en 'n eie koning oor hulle aangestel.
21 Joram het met sy hele strydwamag opgeruk na Saïr toe. Hy het in die nag die Edomiete aangeval wat hom en sy strydwaoffisiere wou omsingel, maar sy manskappe moes vlug, terug huis toe.
22 Tot vandag toe is Edom in opstand teen die gesag van Juda. Destyds het Libna ook gerebelleer.
23 Die ander verhale oor Joram en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.
24 Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Ahasia het hom as koning opgevolg.