23 Die ander verhale oor Joram en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.
24 Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Ahasia het hom as koning opgevolg.
25 In die twaalfde regeringsjaar van koning Joram van Israel, seun van Agab, het Ahasia seun van Joram koning van Juda geword.
26 Ahasia was twee en twintig toe hy koning geword het en hy het 'n jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Atalia 'n kleindogter van koning Omri van Israel.
27 Hy het die pad van die koningshuis van Agab geloop: hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here net soos die koningshuis van Agab, want hy het ingetrou in die familie van Agab.
28 Saam met Joram seun van Agab het hy opgeruk om te veg teen koning Gasael van Aram by Ramot in Gilead. Die Arameërs het vir Joram daar gewond.
29 Koning Joram het teruggegaan om in Jisreël te gaan herstel van die wonde wat die Arameërs hom in Ramot toegedien het toe hy teen koning Gasael van Aram geveg het. Koning Ahasia van Juda, seun van Joram, het vir Joram seun van Agab in Jisreël gaan besoek waar hy siek gelê het.