25 Jehu het sy adjudant Bidkar beveel: “Tel hom op en gooi hom op die stuk grond van Nabot die Jisreëliet. Onthou jy toe ek en jy langs mekaar agter sy pa Agab aangery het hoe die Here hierdie oordeel oor hom aangekondig het?
26 Die Here het toe gesê: ‘So seker as Ek die vergieting van die bloed van Nabot en van sy seuns gister gesien het, sal Ek jou daarvoor vergelding laat doen op hierdie selfde stuk grond.’ Vat hom nou en gooi hom op dié stuk grond, net soos die Here gesê het.”
27 Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur, het hy in die rigting van Bet-Gan gevlug. Jehu het hom agtervolg en opdrag gegee: “Skiet hom ook!” Op die hoogte van Gur, by Jibleam, het hulle hom op sy wa raakgeskiet. Hy het nog tot by Megiddo gevlug, maar daar het hy gesterf.
28 Sy dienaars het hom op sy wa na Jerusalem toe vervoer en hom daar in die Dawidstad in die familiegraf begrawe.
29 In die elfde regeringsjaar van Joram seun van Agab het Ahasia koning geword oor Juda.
30 Isebel het gehoor dat Jehu na Jisreël toe op pad is. Sy het oogverf aangesmeer en haar hare mooi gemaak. Sy het by die venster gaan staan en uitkyk.
31 Toe Jehu by die poort inkom, het sy vir hom gesê: “Kom jy in vrede, Simri, koningsmoordenaar?”