18 Dit was dieselfde Absalom wat die gedenkteken in die koningslaagte opgerig het om homself te vereer, omdat hy gesê het hy het nie meer 'n seun om sy naam in gedagtenis te hou nie. Daarom het hy die gedenkteken na homself vernoem en dit word nou nog genoem: “Absalom se Gedenkteken”.
19 Agimaäs seun van Sadok het gesê: “Laat ek tog hardloop en aan die koning die goeie tyding bring dat die Here hom van sy vyand verlos het.”
20 Maar Joab het vir hom gesê: “Jy is vandag nie die regte man om 'n tyding te bring nie. Jy kan op 'n ander dag boodskappe dra. Vandag doen jy dit nie, want dit is die koning se seun wat dood is.”
21 Toe beveel Joab 'n Kussiet: “Gaan vertel vir die koning wat jy gesien het.”Nadat die Kussiet voor Joab gebuig het, het hy begin hardloop.
22 Agimaäs seun van Sadok het weer vir Joab gesê: “Kom wat wil, laat ek tog net agter die Kussiet aan hardloop.”“My seun, waarom wil jy tog hardloop? Daar sal nie vir jou ook 'n boodskappersloon wees nie,” antwoord Joab.
23 “Dit maak nie saak nie; ek hardloop,” sê hy.“Nou hardloop dan,” sê Joab vir hom.Agimaäs het toe met die pad deur die Jordaanstreek gehardloop en die Kussiet verbygegaan.
24 Terwyl Dawid in die stadspoort sit, klim die wag na die uitkykpos op die poort se dak en kyk rond of hy nie dalk iets sien nie. En juis toe kom daar iemand alleen aangehardloop.