24 Toe Saul se seun Mefiboset die koning kom ontmoet het, was sy voete en baard nie versorg nie; en sy klere was vandat die koning vertrek het tot op die dag dat hy in vrede teruggekom het, nie gewas nie.
25 Toe hy in Jerusalem die koning kom ontmoet, vra die koning hom: “Waarom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?”
26 “U Majesteit,” antwoord hy, “my helper het my in die steek gelaat, want ek het gesê: Ek wil 'n donkie opgesaal hê om op te ry en saam met die koning te gaan; ek is mos kreupel.
27 Hy het my by u gaan beskinder, maar U Majesteit is soos 'n engel van God. U sal dus met my doen soos dit vir u die beste lyk.
28 My hele familie het by u niks anders as die dood verdien nie, en tog het u my 'n plek gegee by dié wat by u aan huis eet. Ek het niks waarop ek my by die koning kan beroep nie.”
29 Toe antwoord die koning hom: “Die saak is afgehandel. Ek beveel hiermee dat jy en Siba die grond moet deel.”
30 Mefiboset het geantwoord: “Nou dat die koning behoue tuis gekom het, kan Siba maar alles vat.”