1 Hierna het Dawid die Here geraadpleeg: “Moet ek na 'n stad in Juda toe gaan?”Die Here het geantwoord: “Ja, gaan!”Dawid het gevra: “Na watter plek toe moet ek gaan?”Toe antwoord die Here: “Na Hebron toe.”
2 Dawid het toe gegaan, vergesel van sy twee vrouens, Aginoam van Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet.
3 Hy het ook sy manskappe met hulle gesinne laat saamgaan, en hulle het almal in die gebied van Hebron gaan woon.
4 Daar het die burgers van Juda vir Dawid tot hulle koning kom salf.Toe daar aan Dawid vertel is dat die inwoners van Jabes in Gilead vir Saul begrawe het,
5 het hy boodskappers na hulle toe gestuur om vir hulle te sê: “Mag die Here julle seën omdat julle hierdie liefdesdaad aan julle koning Saul bewys het deur hom te begrawe.
6 Mag die Here ook aan julle liefde en trou betoon. Ek self sal ook nog 'n weldaad aan julle bewys omdat julle dit gedoen het.
7 Tree nou net moedig op en wees dapper, want julle koning Saul is wel dood, maar Juda het mý tot hulle koning gesalf.”