6 Toe sê die koning vir Abisai: “Nou sal Seba seun van Bikri ons meer moeilikheid gee as Absalom. Vat jy my manskappe en haal hom in voordat hy dalk die een of ander sterk stad bereik waar ons hom nie kan bykom nie.”
7 Joab en sy afdeling het ook agter hom aan uitgetrek. Die koninklike lyfwag en al die vegters het uit Jerusalem getrek om Seba seun van Bikri te agtervolg.
8 Terwyl hulle by die groot klip in Gibeon was, het Amasa by hulle gekom. Joab het nog sy mantel aangehad waaroor sy swaard in die skede vasgegespe was. Hy het op Amasa afgestap, en toe val die swaard uit.
9 Joab het vir hom gevra: “Gaan dit goed met jou, my broer?” en hom met sy regterhand aan die baard gegryp asof hy hom wou soen.
10 Amasa was nie op sy hoede vir die swaard in Joab se ander hand nie, en Joab het hom daarmee in die onderlyf gesteek, sodat sy ingewande op die grond uitgeval het. 'n Tweede steek was onnodig; hy sou sterf. Joab en sy broer Abisai het toe vir Seba seun van Bikri agtervolg.
11 Een van Joab se volgelinge het by Amasa bly staan en gesê: “Wie vir Joab verkies en wie vir Dawid is, volg Joab.”
12 Maar Amasa het in die middel van die pad in sy bloed gelê en gekrul van die pyn. Toe die man sien dat al die manskappe gaan staan, het hy vir Amasa uit die pad uit die veld in gesleep en 'n kledingstuk oor hom gegooi, want elkeen wat hom gesien het, het gaan staan.