1 In Dawid se tyd was daar 'n keer hongersnood wat drie jaar aanmekaar geduur het. Dawid het toe die Here geraadpleeg, en die Here het geantwoord: “Dit is te wyte aan Saul en sy moordenaarshuis, want hy het van die Gibeoniete laat doodmaak.”
2 Die koning het toe die Gibeoniete laat roep. Hulle was natuurlik nie Israeliete nie, maar 'n oorblyfsel van die Amoriete. Die Israeliete het 'n verdrag met hulle gesluit gehad, maar later het Saul hulle probeer uitroei in sy geesdrif vir die saak van Israel en Juda.
3 Dawid het vir die Gibeoniete gesê: “Wat moet ek vir julle doen en hoe moet ek julle vergoed sodat die land van die Here weer sy oeste kan lewer?”
4 Die Gibeoniete het hierop geantwoord: “Ons verwag nie silwer of goud van Saul en sy familie nie en ook nie dat iemand in Israel doodgemaak moet word nie.”Dawid vra toe: “Wat wil julle dan hê moet ek vir julle doen?”
5 Hulle antwoord die koning: “Daar was 'n man wat ons wou uitroei en wat beplan het om ons te verdelg sodat ons nie in die grondgebied van Israel kon voortbestaan nie.
6 Daar moet nou sewe mans uit sy familie aan ons gegee word, sodat ons hulle kan doodmaak en voor die Here kan ophang by Gibea van Saul, die man wat deur die Here uitgekies was.”Dawid het geantwoord: “Goed, ek sal dit doen.”