8 Maar die koning het vir Armoni en Mefiboset, die twee seuns wat Rispa dogter van Aja by Saul gehad het, gevat asook die vyf seuns van Saul se dogter Merab wat sy gehad het by Adriël seun van Barsillai die Megolatiet.
9 Hy het hulle almal uitgelewer aan die Gibeoniete wat hulle doodgemaak en voor die Here op die berg opgehang het. Die sewetal het saam omgekom. Hulle is gedood teen die tyd dat daar gewoonlik begin word met die garsoes.
10 Rispa dogter van Aja het toe rouklere gevat en dit vir haar op 'n rots oopgegooi. Van die begin van die oestyd af totdat die reëntyd aangebreek het, het sy bedags die roofvoëls en snags die roofdiere nie aan die lyke laat vreet nie.
11 Toe daar aan Dawid meegedeel is wat Aja se dogter Rispa, 'n byvrou van Saul, gedoen het,
12 het hy die bene van Saul en sy seun Jonatan laat haal by die burgers van Jabes in Gilead. Hulle het dit destyds op die stadsplein van Bet-San gaan steel waar die Filistyne dit opgehang het toe Saul op Gilboa verslaan is.
13 Hy het Saul en sy seun Jonatan se bene daarvandaan laat bring en ook dié van die manne wat op die berg opgehang is
14 en almal by Sela in Benjamin laat begrawe in die graf van Kis, Saul se pa. Alles is gedoen net soos die koning beveel het. Daarna het God weer gebede vir die land verhoor.