13 Gad het toe vir Dawid die boodskap gebring: “Wat wil jy liewer hê? Sewe jaar hongersnood in jou land, of drie maande waarin jy voor jou teenstanders vlug en hulle jou agtervolg, of drie dae lank pes in jou land? Oorweeg nou goed hoe ek Hom wat my gestuur het, moet antwoord.”
14 Dawid het vir Gad geantwoord: “Ek is in 'n hoek gedryf. Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is groot. Ek wil nie in die hand van 'n mens val nie.”
15 Daarna het die Here 'n pes van die oggend af tot die aand onder Israel ingestuur. Van die noorde tot die suide het daar sewentig duisend gesterf.
16 Net toe die engel sy hand na Jerusalem toe uitsteek om dit te verdelg, het die Here besluit om die straf nie verder te voer nie. Hy het vir die engel wat die verderf onder die volk aanrig, gesê: “Dis nou genoeg. Trek jou hand terug.”Die engel van die Here was toe net by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.
17 Terwyl Dawid die engel sien wat die volk tref, sê hy vir die Here: “Dit is ék wat gesondig het. Ja, ék het oortree. Wat het hierdie arme mense gedoen? Tree liewer op teen my en my familie.”
18 Gad het daardie dag na Dawid toe gekom en vir hom gesê: “Gaan op en bou vir die Here 'n altaar op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.”
19 Dawid het toe opgegaan soos die Here hom deur die woord van Gad beveel het.