19 “Julle vra waarom die seun nie die straf op sy pa se sonde kan dra nie? Omdat die seun reg laat geskied en reg leef. Hy is gehoorsaam aan al my voorskrifte en hy voer hulle uit, en daarom sal hy bly lewe.
20 Die mens wat sondig, sal sterwe. 'n Seun sal nie die straf op sy pa se sonde dra nie, en 'n pa sal nie die straf op sy seun se sonde dra nie. Wie leef volgens my wil, sal die vrugte daarvan pluk. Wie goddeloos is, sal die straf daarvoor dra.
21 “Maar die goddelose wat hom van al sy sondes bekeer, al my voorskrifte nakom, reg laat geskied en reg doen, sal bly lewe, hy sal nie sterwe nie.
22 Nie een van sy oortredings wat hy begaan het, sal teen hom gehou word nie. Hy sal bly lewe op grond van die reg wat hy doen.
23 Dit is beslis nie my wil dat die goddelose moet sterf nie, sê die Here my God, dit is my wil dat hy hom bekeer van sy verkeerde dade en dat hy bly lewe.
24 “En as iemand wat altyd my wil gedoen het, ophou om dit te doen en onreg pleeg en die afskuwelike dinge doen wat die goddelose doen, sal hy nie bly lewe nie. Nie een van die goeie dinge wat hy gedoen het, sal in sy guns tel nie, want hy het ontrou geword en hy sal sterf op grond van sy sonde wat hy gedoen het.
25 “Julle sê: ‘Die Here tree nie reg op nie.’ Luister, Israel, tree Ék nie reg op nie? Dit is julle wat nie reg optree nie!