24 “En as iemand wat altyd my wil gedoen het, ophou om dit te doen en onreg pleeg en die afskuwelike dinge doen wat die goddelose doen, sal hy nie bly lewe nie. Nie een van die goeie dinge wat hy gedoen het, sal in sy guns tel nie, want hy het ontrou geword en hy sal sterf op grond van sy sonde wat hy gedoen het.
25 “Julle sê: ‘Die Here tree nie reg op nie.’ Luister, Israel, tree Ék nie reg op nie? Dit is julle wat nie reg optree nie!
26 As iemand wat altyd my wil gedoen het, ophou om dit te doen en onreg pleeg en op grond daarvan sterf, sterf hy op grond van die onreg wat hy gepleeg het.
27 En as 'n goddelose hom bekeer van sy goddelose optrede en hy laat reg geskied en doen reg, hou hy hom in die lewe.
28 Omdat hy tot insig gekom het en hom bekeer het van al sy oortredings wat hy begaan het, sal hy bly lewe, hy sal nie sterwe nie.
29 En dan sê Israel: ‘Die Here tree nie reg op nie.’ Is dit Ek wat nie reg optree nie, Israel? Dit is julle wat nie reg optree nie!
30 “Ek gaan julle oordeel, Israel, elkeen volgens sy eie optrede,” sê die Here my God. “Bekeer julle, bekeer julle van al julle oortredings, sodat die sonde nie julle val bewerk nie.