6 My kleinvee het rondgedwaal oor al die berge en oor al die hoë heuwels, hulle het verstrooi geraak oor die hele aarde en niemand het hulle gesoek of na hulle gevra nie.”
7 Daarom, herders, hoor die woord van die Here:
8 “My kleinvee is uitgelewer en het die prooi van enige wilde dier geword; hulle is sonder herder, sonder iemand wat na hulle soek; die herders het vir hulleself gesorg en nie vir my kleinvee nie. So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal die herders straf.”
9 Hoor die woord van die Here, herders!
10 So sê die Here my God: “Ek gaan optree teen die herders: Ek eis my kleinvee van hulle terug, Ek maak 'n end daaraan dat hulle die kleinvee se herders is, hulle sal nie herders bly net om vir hulleself te sorg nie. Ek sal my kleinvee red en hulle nie deur die herders laat opeet nie.”
11 So sê die Here my God: “Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien.
12 Soos 'n herder omsien na die kleinvee wat uit sy trop verstrooi raak, so sal Ek omsien na my kleinvee en hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is op daardie donker oordeelsdag.