4 Daarom, berge van Israel, hoor die woord van die Here my God! So sê die Here my God vir die berge, die heuwels, die klowe, die valleie, vir die verlate puinhope, die onbewoonde stede wat geplunder en verneder is deur die mense wat van die nasies rondom oor is,
5 so sê die Here my God: “Ek praat in gloeiende woede oor wat oor is van die ander nasies en oor die hele Edom wat met soveel genot en minagting my land vir hulleself gevat het om sy weivelde buit te maak.
6 “Tree op as profeet vir die land Israel en sê vir die berge, die heuwels, die klowe, die valleie: So sê die Here my God: Ek praat in woede, in toorn oor die vernedering wat julle deur die nasies aangedoen is!”
7 So sê die Here my God: “Ek lê 'n eed af dat die nasies rondom julle self verneder sal word!
8 Maar julle, berge van Israel, moet sorg dat daar bome met takke en vrugte is vir my volk Israel, hulle terugkoms is naby.
9 Ek sal na julle omsien en vir julle sorg: julle sal bewerk en beplant word.
10 Ek sal sorg dat daar baie mense op julle woon, die hele Israel. Die stede sal weer bewoon word, die puinhope herbou word.