1 “Mens, tree op as profeet teen Gog en sê: So sê die Here my God: Ek gaan teen jou optree, Gog, hoofregeerder van Mesek en Tubal.
2 Ek sal jou in 'n ander rigting laat draai en jou aan die hand lei en jou uit die verre noorde laat uitkom en jou die berge van Israel laat inval.
3 Maar Ek sal jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val.
4 Jy en al jou hordes en die ander volke wat tot jou beskikking is, sal op die berge van Israel sneuwel. Ek sal jou vir al die roofvoëls en die roofdiere gee om op te vreet.
5 Jy sal in die oop veld sneuwel, want Ek het gepraat,” sê die Here my God.
6 “Ek sal vuur instuur in Magog se land en onder die sorgelose kuslandbewoners, en hulle sal besef dat Ek die Here is.