1 Dit was die tiende dag van die nuwe jaar, die vyf en twintigste jaar van ons ballingskap en die veertiende jaar nadat Jerusalem verwoes is. Presies op dié dag het die mag van die Here my in besit geneem en my
2 in 'n gesig wat van God gekom het, na Jerusalem toe gebring. Hy het my na die land Israel toe gebring en my op 'n baie hoë berg neergesit. Aan die suidekant op die berg was daar geboue wat gelyk het na dié van 'n stad.
3 Hy het my daarnatoe gebring en daar sien ek toe 'n man wat gelyk het of hy van brons is. Daar was 'n linnetou en 'n meetstok in sy hand, en hy het by 'n poort gestaan.
4 Die man het vir my gesê: “Mens, jy moet goed kyk en luister, jy moet oplet na alles wat ek vir jou wys, want jy is hiernatoe gebring om alles vir jou te wys. Wat jy gesien het, moet jy dan vir Israel gaan sê.”