42 Daar was vir die brandoffer vier tafels van gekapte klip, elkeen 'n driekwart meter in die vierkant en 'n half meter hoog. Die gereedskap waarmee die offerdiere geslag is, is gebêre op
43 lyste van 'n kwart meter breed wat rondom teen die gebou aangebring is, en die vleis vir die offers is op die tafels neergesit.
44 Buitekant die binneste poort, in die binneste voorhof, was die vertrekke van die sangers. Die vertrekke was teen die noordpoort en het suid gekyk. Daar was ook teen die oospoort 'n vertrek, wat noord gekyk het.
45 Die man het vir my gesê: “Een vertrek wat suid kyk, is bedoel vir die priesters wat in die tempel diens doen.
46 Die vertrek wat noord kyk, is bedoel vir die priesters wat by die altaar diens doen. Net die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok kan na die altaar toe kom om die diens aan die Here te verrig.”
47 Die man het die voorhof gemeet. Dit was vyftig meter in die vierkant. Die altaar was voor die tempel.
48 Daarna het hy my na die voorportaal van die tempel toe gebring en die mure weerskante van die portaal se ingang gemeet. Hulle was twee en 'n half meter lank aan weerskante. Die ingang was een en 'n half meter breed aan weerskante.