11 Net die water in die moerasse en kuile langs die Dooie See sal nie vars word nie. Hulle moet sout bly.
12 Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring.”
13 So sê die Here my God: “Die volgende is die grense van die gebied wat julle as besitting moet toeken aan die twaalf stamme. Aan Josef moet twee dele gegee word,
14 maar aan die ander moet julle een deel elk toeken. Ek het met 'n eed beloof dat Ek die land aan julle voorvaders sal gee, daarom kom dit julle toe as besitting.
15 “Die grense van die land is soos volg: Aan die noordekant van die Groot See af oor Getlon tot by Sedad,
16 verder Hamat, Berota, Sibrajim tussen die gebiede van Damaskus en Hamat, en Middel-Gaser op die grens van Gauran.
17 Die grens loop dus van die see af tot by Gasar-Enan, met die gebiede van Damaskus en Hamat noord daarvan. Dit is die noordgrens.